Daar gaan omtrent nie ‘n dag verby dat mens nie iewers hoor of lees van ‘n minderjarige wat geboelie word nie. In die buiteland en op eie bodem vind hierdie voorvalle op ‘n daaglikse basis plaas en mens hoor ook gereeld van kinders wat selfs selfmoord pleeg omrede hulle nie meer die mishandeling (fisies en verbaal) kan trotseer nie.
Die Christelike Uitgewers Maatskappy, CUM, het onlangs ‘n ondersoek in twee provinsies gedoen wat 1300 van hoër en laer inkomste groepe ingesluit het. Onder laerskool leerders het 87% van meisies aangedui dat hulle al geboelie was. Twee en sestig persent van die seuns het hieronder deurgeloop; 19% van hierdie is al fisies geboelie, 74% ondervind verbale mishandeling op ‘n daaglikse basis en 98% het aangedui dat hulle eerder sal boelie as om geboelie te word.
Die hoërskool leerders skets dieselfde prentjie en meer as 20% van hierdie leerders het aangedui dat hulle al selfmoord oorweeg het. Om te boelie is ‘n reaksie op gedrag wat gesien en na ge-aap word. Dit is ook ‘n metode om onsekerhede of lae selfbeeld te verbloem.
Die idee van ‘n boelieprojek het in 2014 reeds by Maruchè posgevat nadat sy reeds op so ‘n jong ouderdom aan boelies blootgestel was. Die feit dat sy in die vermaaklikheids bedryf begin uitblink het, het veral hiertoe bygedra.
"Ek het elke keer net weer opgestaan en besluit hulle gaan my nie onder kry nie. Ek gaan net ‘n sterker weergawe van myself word. Ek wil graag vanjaar hierdie boelieprojek aanpak omrede ék self aan boelies blootgestel word en ook kinders rondom my sien wat deur dieselfde mishandeling gaan. Ons ouers is nie altyd daar om ons in watte toe te draai nie en daarom moet ons vir ons self kan begin opstaan. Ons moet leer om "Boelie Bestand" te word," vertel Maruchè.
Natuurlik as sanger is daar geen beter manier om ‘n boodskap uit te dra as deur middel van sang en musiek nie. Met haar nuwe liedjie, "Wees Iemand" het Maruchè ook hande gevat met die bekende duo-groep, DZL, en ‘n musiekvideo is ook van die liedjie opgeneem.
Selfs as volwassenes ervaar mens nog steeds aanvalle van boelies en om in die publieke oog te wees kry jy konstant met boelies te doen.
"Ons word ook op ‘n daaglikse basis geboelie deur mense wat voel hulle het die reg om negatiewe kommentaar op alles en nog wat te lewer. Dit is nodig dat mens van kleins af leer dat boelies nie jou toekoms of sukses bepaal nie. Jy is sterk genoeg om op te staan" vertel DZL.
Die "Boelie Bestand" projek beoog om met ‘n groot media en bewusmakings veldtog te begin wat ook besoeke aan skole, kerke en ander instansies insluit. Die veldtog sluit nie net ‘n kort produksie van die liedjie in nie maar gee ook waardevolle inligting vir die gehoor oor wat hulle kan doen om teen boelies op te staan, wat jou regte is en hoe om sulke situasies te hanteer.
Geniet die Video
Ontmoet DZL
Dis nou nie iets wat jy aldag raakloop nie; twee sangers wat ook gerekende modelle is. Andries Hendrik Potgieter en Wiaan Fourie het in September 2014 vir die eerste keer saam op die verhoog verskyn nadat Wiaan die plek moes inneem van Andries se kitaarspeler, wat ’n dubbele bespreking gemaak het. Hulle het kort daarna ’n kontrak met ’n platemaatskappy gesluit. Hul debuutalbum, DZL, bestaan uit countrymusiek, met ’n mengsel van pop en rock en vind aanklank by oud en jonk. Hulle is vanjaar ook vir ‘n Ghoema vir Beste Country Album en Die Publiek se Gewildste Duo/Groep genomineer.
Die naam DZL (uitgespreek as Diesel) is iewat ongewoon maar Andries verduidelik dat dit die perfekte keuse was. “Ons is albei internasionale loopplankmodelle en die modehandelsmerk Diesel is baie bekend in die bedryf,” vertel Andries. “Ons is ook lief vir die bos, renosterbewaring en natuurlik vir 4x4-ritte – daarvoor het jy ‘diesel’ nodig. Ons naam is daarom ’n samevatting van wie ons is: DZL op die loopplank, DZL in die bos en DZL op die verhoog!”
Wiaan het in ’n musikale familie grootgeword. Sy pa, Louis, was ook in ’n musiekgroep, Night Train. Wiaan is ’n gebore Vrystater maar woon die afgelope vier jaar in Gauteng. Andries is ’n regstreekse afstammeling van die Voortrekkerleier met dieselfde naam. Hy is in Witbank gebore en na ‘n paar jaar in onder andere Jeffreysbaai, Polokwane en Johannesburg het hy sy tentpenne nou in Pretoria ingeslaan.
Bos-liefhebbers
Wanneer hulle die kans kry, sit hulle af bos toe. Hulle is ambassadeurs vir die Limpopo Rhino Security Group en Rhino Connect wat renosterstropery probeer bekamp. Hulle het of #DZLnoster.
Spiertiere
Die manne is passievol oor ’n gesonde leefstyl. Hulle sweet drie uur per dag, sewe dae per week in die gym. Die tydskrif Cosmopolitan het Andries ook in 2016 as die sexyste man van die jaar aangewys. Die twee manne het ook aan die begin van die jaar hulle eie fiksheidstydskrif vrygestel wat nou ook in weeklikse radiobrokkies op 5 radiostasies regoor die land aangebied word.